Sondagmiddag. Ding kan ‘n Sondagmiddag net nie veel nie. Dis mos nou daai tyd wat die duiwel los rondloop, onthou jy nou weer. Kyk, dis mos toe die Oubaas nou alles klaaaaar gemaak het en Hy klaar sy se broeksakke loop uitskud het daar tussen Olifantshoek en Upington en Hy gereken het Hy kan darem nou self net so ‘n kortetjie maak voor Hy nou sy skepping ernstig in stand beginte hou, dat die duiwel mos loop wakkerraak het en beginte omkrap het. En sedert daai eerste Sondagmiddag, net so voor die einde van die middagslapietyd, bly die verdomde duiwel mos terugkom, elke Sondagmiddag – soos ‘n weglêjakkals, ja. En dan kan manman hom nou maar probeer keer soos die behoefte behaag, maar keer, laat hy nie vir hom nie keer nie. So by so nie in Ding se lewe nie.
Party Sondae stel Ding al vroegdag vir hom ‘n jakkalskanon en dan trap hy hom dawerend af en sien sy gat driedimensioneel sonder ‘n spieël, maar daai hou net vir daai spesifieke Sondagmiddag. Anderdae dan maak Ding ‘n ordentlike, gawe hoop klippe bymekaar en stenig hom Soweto-styl nog voor hy naby Ding se Sondagmiddagstilte kan kom, sien jy, maar die meeste van die Sondagmiddae is hy net te slinks vir Ding en bekruip hy vir Ding tjoepsuutjies en as Ding kyk en Ding kyk weer, dan IS dit so – dan bespring hy vir Ding met ‘n bloute van agter af dat Ding skooooon neus eerste in die Sondagstof duik.
Nou hierdie Sondag besluit Ding sommer vroegdag al, toe Ding so in sy gebeendere aanvoel hoe die depressieduiwel hom so saam met die skielike koudte in blou wil kom toevou, semooooeeehhr! Ding vertel homself vandag slaap jy dwarsdeur die wetter se rondlooptyd, sien jy. En Ding maak homself reg vir daai. Maar iewers besluit die weglêjakkals hy vreet ‘n gat in Klaasvakie se sandsak en Ding word wakker en besluit om darem net bietjie orde te skep. FOUT.
Ding WEET mos nou al – sit op jouse gat op ‘n Sondagmiddag soos kleintyd se sit in die kerk. Jy roer nie, want roer jy, is daar lewe en waar lewe en Ding is op ‘n Sondagmiddag, IS daar moeilikheid. Maar Ding is mos stadig as dit by leer kom, onthou jy nou weer. Want dis op ‘n Sondag dat Ding die geel piesangmelkie mos spuitend laat spat het; dis op ‘n Sondag dat Ding homself en alles wat kosbaar is aan Ding, wat reeds vas is aan Ding, verder aan homself en alles anders gesuperglue het; dis op ‘n Sondag dat …. noem dit en dit WAS op ‘n Sondag… middag.
En sowaar die dag ook, staan Ding mos nou heeeeel onskuldig in die kombuis, en Ding voel hierdie allesoorheersende, onverklaarbare drang om NOU in die badkamer te loop staan. Vir geen betrokke rede nie; Ding het so met die opstaan sommer net gou weer ‘n traan getrek; net om wakker te word, jy verstaan mooi. En Ding kyk so boontoe soos Ding in daai badkamer staan en Ding sien dit lyk dan nou kompleet asof die, met respekte gesê, plafon vir Ding ‘n driedimensionele kunsskepping wil toon van die hemel wat oopskeur soos met die Kinderbybel se wederkoms. So al gapende na bo, kop agteroor, klim Ding pens en pote binne-in die bad in – om nou beter te kan sien, my kind. Nou staan Ding nog so met sy oë opgeslaan na die plafon met die gaping in, toe bars daar mos darem ‘n aardige geluid los. Hier reg voor Ding. Bespring daai muurteëls mos nou vir Ding reg van voor af, so mooi amper kophoogte, met dieselfde drif en drang as wat Ding party Sondae die weglêjakkals stenig. Maar smaak of daai teëls enemal hulleself projekteer en lanseer reg op Ding af, man. Kyk, Ding veg met sy trombose elke dag die stryd teen swaartekrag, want die trom bly mos afsak oor Ding se bose, maar soveel van swaartekrag se krag het Ding in sy dag des lewens nog nie aanskou nie. En daai teëls stort neer oor en om Ding asof ‘n floute hulle geoorval het, sien jy. Hulle reën neer in daai bad hier al om Ding se voete. Maar dis nie vir vertel nie, dis vir kom kyk, hoor jy. Met dawerende donderde geluid van ontploffing. Aardig, man. Iets uit die bose, as daar nou al iets uit die bose was.
Ding skud sy kop soos ‘n stof hond. Wie de donner is besig om Ding die ewige niet in te probeer skiet? En toe dit nou als oor is, toe kyk Ding so om hom rond om te sien of dit nodig is om dekking te slaan, maar Ding besef darem ook: gits, ek het net in die bad geklim! En soos Ding sy kop skud, so stofwolkie dit om hom en hoor hy klein girtselende geluidjies van stukkies teëlsement en flentertjies teëls wat neersif. Dit smaak daar is ‘n splinter of wat in Ding se kopbeen van oor tot oor skedel en die een skerp stukkie druk so half in Ding se een ou Rakaklou in toe hy nou die laaste skrapnel uit sy borselkop vee. En Ding sien hierdie regterbeen van hom lyk asof hy met ‘n paar lusernbale geveg het sonder kragte in die arms. Dis skrape en blou kolle en ‘n gekneusde ego. Maar Ding staan geplant onder die stortvloed gebreekte, gevalle teëls. En Ding kyk na die skandmuur hier slap voor hom. En die muur lyk kompleet soos ‘n tipiese Baghdad-muur – klomp klein gate en duike en merke asof ‘n stortreën koeëls die muur getref het. Fok weet wie lank terug hier kwaad geword het… maar dit was nie mooi nie, dis verseker so.
Maar dis mos TOE dat Ding nou so ‘n klein bietjie afstand kry, dat Ding besef presies wat die impak van die skielike in duie storting van die teëls is: hierdie hele donnerse badkamer sal oorgedoen moet word. Omdat die paar ellendige fokken teëls nie kon vashou toe hulle moes nie. Omdat ‘n paar teëls teen een van die mure hulleself nie aan hulle se gom kon vashou teen die muur waar hulle hoort nie. En Ding raak skoon wild befok, man. En Ding stel ondersoek in. En Ding raak nog wilder. Want Ding besef dis ‘n nat muur. En Ding besin hier, en Ding analiseer daar, maar die slotsom bly: hierdie is ‘n fokop van epidermiese proporsies. En Ding sê vir homself: jou ellendige dom fok! Jy wil maar net nie leer nie – slaaaaap op ‘n Sondagmiddag! Maar neeeee. Die weglêjakkals blouSondagduiwel het darem vandag vir Ding so waar so waar netjies kom verras. Eeeeewige hond!
Ding loop haal sy pyp, loop sit plat op sy gat op die vloer, weg van die badkamer af. Ding steek ‘n Camel aan en trek sy pyp tussen die Camel teue deur. Ding rook homself warm en koud gelyk – links Camel en regs pyp. En Ding raak beswaard. En kyk, Ding KAN professioneel beswaard raak. Ding gee homself oordadiglik gewillig oor aan die Sondagmiddagsonde – Ding sit daar en al sittende stamp hy voete. En Ding smaak hy kan ‘n tienpond hamer vat en die res van die teëls ook nou maar moer toe kap en klaarkry. Maar Ding doen nie. Ding sit net. En Ding gee homself oor aan elke denkbare emosie. Ding voer die donnerse Sondagduiwel so dik en vet die wetter sal vir ‘n wyle nie kan loop nie, nevermind moeilikheid maak. En toe die son sak, besef Ding mos: kort voor baie lank sal Ding daai bad wil gebruik. Ding beter nou maar homself bymekaar maak en loop skoonmaak.
Dit neem ure, want Ding besluit terwyl Ding se helige Sondagbeplanning nou in elk geval moer toe is, kan Ding net sowel die badkamer van bo tot onder, van kant tot wal, kort van nuut teel en uitverf, skoonmaak. En Ding doen so. Presies. Noukeurig. Ding trek homself poedelkaal uit en maak skoon, want dis hoe Ding badkamer skoonmaak, sien jy. Anders omskep Ding sy klere in die proses in domestos en jik cammo. Daaaaaai les lankal geleer op die duur Sondagmiddagmanier, ja. En dis toe Ding mos nou klaar is met die amper gewyde ritueel dat Ding vir hom loop boeretroos maak en Ding sy gebombardeerde Baghdad-badkamer met die Kinderbybel-wederkoms-plafon opnuut betrag, dat Ding besef: my fok, eintlik is hierdie nou ‘n heel goue, gulde geleentheid, sien jy dan nou nie!
Fokol oordoen van badkamer met bestaande teëls wegkap. Neeee, hhmmm-uhhm. Hierdie is die geleentheid om ‘n massiewe spieël teen die muur vas te sit. Met skroewe en wat nog. Nie sement of gom of wat ookal nie. Neeee. En Ding se gedagtes loop diekant toe en Ding se gedagtes loop daaikant toe. En die kort slotsom: Ding besef Ding het hierdie storting lankal sien en voel kom, maar Ding het om dit gelewe. Tot vandag toe. En hierdie is die begin van ‘n nuwe, ander uitdaging. Hierdie is die keerpunt waar Ding besluit: NOU maak Ding Abraham en Isak teen die berg op se naam klein. Ding weet wat Ding weet. Ding stap nou ‘n pad, dieselfde pad, maar blind in geloof en Ding weet nie waarheen hy stap nie, maar hy begin in hierdie badkamer van geleenthede en daardie spieël wat Ding gaan vassit, sal sy monument wees. Sy onthouplek van hoe bestaande probleme teelaarde is vir nuwe uitdagings. Dat dit selde werklik nodig is om dit wat is, uitmekaar en stukkend te donner en oor te doen. Gee genoeg energie en toewyding om werklik op te ruim en orde te skep en voeg afstand by en siedaar: probleme word uitdagings! Jipja, daai ene – ‘n aanpassing hier, beplanning daar, bietjie verf hier en paneelklop daar en karakterbou tussenin en kierts! Wat was, is steeds en kan bly wees – net in hersiene formaat.
Miskien, net miskien is Sondagmiddagsondes eintlik presies die begin van ‘n nuwe week vol uitdagings.